Monday, 19 May 2014

HEEL HOENDER IN DIE POT





HEEL HOENDER IN DIE POT 
Lewer 4 – 6 porsies

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1,5 kg heel hoender
1 suurlemoen
sout en peper
’n groot handvol vars kruie, soos tiemie, origanum, Italiaanse pietersielie of salie
250 ml (1 k) rooibostee, witwyn of flou-aangemaakte hoenderaftreksel
125 ml (½ k) appelsap
1 lourierblaar
5 ml (1 t) mielieblom met water gemeng om ’n pasta te vorm
500-750 g groente van jou keuse, bv. ’n kombinasie van uie, wortels, murgpampoentjies, botterskorsie, rooi soetrissies en sampioene

Verhit die olie oor matige hitte in die AMC 30 cm Braaipan of AMC 24 cm High (of ander groot kastrol).
Braai die heel hoender aan alkante tot goudbruin. Verlaag die hitte van die pan.
Druk die sap van die suurlemoen uit en skep bo-oor en binne-in die hoender. Plaas die uitgedrukte suurlemoenhelftes met helfte van die kruie in die holte van die hoender en geur oral oor liggies met sout en peper.
Plaas die res van die kruie en lourierblaar op die bodem van die pan, skink die vloeistof in die pan en plaas die hoender bo-op.
Plaas die deksel op en prut vir 30 minute. Voeg groente by en prut nog 30 minute of tot die hoender en groente net gaar is. (Voeg die uie en harder groente 30-40 minute vooraf by, afhangend van hoe groot die stukkies is. Sagter groente sal binne 20 minute gaar wees.)
Skep hoender versigtig uit die kastrol en hou eenkant warm. Roer mielieblom pasta by die vloeistof in die pan. Geur na smaak en prut vir ’n paar minute terwyl dit geroer word om te verdik. Plaas hoender terug in die sous en sit met sous en groente voor. 
BRON: HELEEN MEYER
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/05/heel-hoender-in-die-pot.html