Saturday 13 July 2013

SUURDEEG RESEPTE

AARTAPPELSUURDEEG PLANTJIE                         
FOTO GELEEN
2 koppies lou water
1 groot ongeskilde aartappel, in 8 blokkies gesny
3 teelepels suiker
1 koppie meel
½ teelepel sout
Metode:
Plaas die aartappel, suiker en sout in die lou water.
Strooi die koppie meel liggies oor.
Roer dit twee keer.
Sit dit in 'n houer wat twee keer die volume van die beslag kan neem.
Sit doekie oor, sit in plastieksak, en vou die houer toe in 'n kombers.
Laat dit oornag staan.
Die volgende oggend kan jy vir jou 'n halwe koppie uitskep om 'n brood mee te bak.
Sit die res in 'n glasfles in die yskas - jy kan dit tot 3 weke lank so hou.
Hierdie plantjie kan gebruik word vir enige suurdeegbeslag.
As die vloeistof klaar is, kan jy net weer die helfte van die water, suiker, sout en meel byvoeg

Ade Le**RSG)


KORTPAD AARTAPPELPLANTJIE
OM EEN TE BEGIN.
1 koekie suurdeeg,
1 medium aartappel, geskil en gerasper,
20 ml witsuiker,
10 ml sout,
lou water in consolbottel,
Roer tot alles vaalgrys is en los op warmplek om te rys, ek sit sommer 'n piering op die bottel om dit nie te dig toe te maak nie, gooi maar 'n skoon vadoek of net bo-oor in die somer..die muggies hou van aartappelsuurdeeg..
Hierdie beginplantjie is sterk genoeg om 1 en ’n half kg koekmeel, half kop suiker, 1 tl sout , anys, bietjie gesmelte margarien of botter te laat rys vir sagte beskuit..
is weer aan't intjip :))... wil net nog sê... wanneer jy die suurdeegplantjie sou begin met die koekiesuurdeeg en beskuit daarmee bak, asook as jy net jou plantjie sou insuur daarna..
My skoonma het my geleer dat jy die beskuit 2 keer afknie voor jy die bolletjies afknyp, glo my dis die moeite werd, so na 4 ure se rys knie jy dit af en laat weer rys...daardie beskuite is vereflokke, breek ook jou beskuite oop so warm as moontlik dan sal jy die effek van die vere sien...(ai nou maak ek myself lekker lus!) Jou beskuitdeeg kan maar 'n sagte deeg wees ..maar hou jou brooddeeg stywerig, dis wanneer die brood handvatsels maak/oorrys oor die kante van die panne... Ek deel graag hierdie kennis met julle, want glo my as jong getroude huisvrou wou ek my skoonma ook beindruk :)) en ek het baie kluite deeg weggegooi/begrawe :0 voor ek die geheim van die 8 ure se eerste rys besef het...nou het ek die proses vervolmaak en ek kyk nie eens meer na 'n resep nie, dis in my kop en altyd in die somer 'n sukses!
Die winters is koud hier in die Vaaldriehoek en dan meng ek maar vir veiligheid "n koekie suurdeeg by die plantjie in as ek 2kg of meer se beskuit sou bak... die suiker is ook 'n probleem met aartappelsuurdeeg, te veel laat die deeg nie rys nie, daarom gebruik ek op die meeste 1 en "n halfkop suiker op 2,5 kg meel om beskuit te bak!
Ria N. Pieterse
WENKE:
Die aartappelsuurdeeg alleen is dit belangrik om dit nie te warm toe te maak nie, te laat rys nie, dit kan so suurword, die plantjie moet eers uitgevars word as dit lanklaas gebruik is.
Lekker resepte vir die Jongergeslag

AARTAPPELGIS

My ouma het altyd brood gebak met aartappelsuurdeeg. Hier is haar resep, aangepas met kitssuurdeeg.
2 medium-aartappels
2 ½ k (625 ml) kookwater
½  t (2,5 ml) kitssuurdeeg
2 e (30 ml) suiker
2 t (10 ml) sout
1 vrugtefles

Was, skil en rasper die aartappels. Gooi die kookwater oor en laat afkoel tot louwarm. Meng die suiker, sout, suurdeeg en louwarm aartappelmengsel goed. Gooi dit in die vrugtefles en halfskroef die deksel op. Maak warm toe en laat staan 6-8 uur oornag. Die gismengsel sal vol borrels raak en die houer volmaak of kan selfs begin oorloop. Daarom moet die deksel nie styf toegedraai word nie, anders kan die bottel bars. As dit langer as twee dae staan, sal die gis bederf. As die hoeveelheid borrels verminder, is dit 'n teken van bederf.

Hou 250 ml van die gis in 'n bedekte houer om 'n latere baksel mee te begin. Die 250 ml gis kan 8 tot 10 dae of selfs 14 dae op 'n koel plek gehou word. Gebruik die res van die gis met die aartappels in dadelik om mee te bak. 


ROSYNTJIE-SUURDEEG

Vars mos is in die parsseisoen by sommige kelders beskikbaar. Heerlik om mosbolletjies of rosyntjiebrood mee te bak. As u nie vars mos kan bekom nie, maak 'n rosyntjie-suurdeeg. 250 g (425 ml) pitlose rosyne 1 «k (375 ml) kookwater, afgekoel Was en sny die rosyne in die helfte deur. Plaas in 'n vrugtehouer of kalbas. Voeg die louwarm water by, bedek die houer en laat sowat 3-4 dae op 'n lekker warm kombuisrak gis of tot die rosyne bo-op dryf. Dreineer en gebruik die vloeistof om die spons te maak. Nota: Om die proses te bespoedig, kan 'n koekie saamgeperste suurdeeg en 2 t (10 ml) suiker bygevoeg word. 

HOPSUURDEEG

Een van ons lesers het vir ons hierdie resep vir hopsuurdeeg gestuur.
40 g (200 ml) hop
4 k (1 liter) water
3 e (45 ml) suiker
3 e (45 ml) broodmeel
½ t (2,5 ml) kitssuurdeeg

Prut die hop sowat 20 minute in die water. Dreineer en laat afkoel. Meng die suiker en meel, voeg die hop en suurdeeg by en roer tot glad. Gooi die mengsel in 'n wynbottel tot sowat 10 cm van die nek. Kurk. Laat staan vir 24 uur op 'n warm plek om te gis. Sodra dit reg is, sal die prop uitskiet. (Dit is die outydse manier!) Om brood te bak: Voeg 125 ml tot 200 ml van die gis by elke 1 kg broodmeel. 

No comments:

Post a Comment