Thursday 24 October 2013

VLAKOEK VIR DIABETE



Vla koek vir Diabete                    








Ek was altyd mal oor ’n vla-koek. Ná my diabetes-diagnose het ek so daarna gesmag. Tot ek besluit het genoeg is genoeg, en my eie vla-koek geprakseer het.
H Lategan



Koek
150 g laevet-margarien
45 ml heuning
150 g (270 ml) bruismeel
knippie sout
3 eiers

Vla-vulsel
500 ml laevet-melk
30 ml suikerplaasvervanger
knippie sout
100 ml vla-poeier
50 g laevet-margarien
125 ml suikerplaasvervanger
5 ml vanieljegeursel
vars appelliefies vir versiering

Verhit oond tot 170 ºC. Spuit ’n losboom-koekpan van 20 cm deursnee met kleefwerende kossproei. Smelt margarien saam met heuning. Sif meel en sout saam. Klits eiers saam tot lig. Voeg heuning margarien-mengsel in ’n dun stroompie by eiers. Klop meel by tot daar geen klonte meer is nie. Skep in
voorbereide pan en bak vir ongeveer 20 – 30 minute tot gaar. Koel af en sny in die helfte.

Vulsel Verhit die melk, 30 ml suikerplaasvervanger en sout saam. Meng vla-poeier met ’n bietjie koue melk tot ’n gladde pasta sonder klonte. Voeg bietjie van warm melk by en roer tot opgelos. Gooi vlamengsel terug by warm melk. Verlaag hitte en kook tot dik. Plaas kastrol in ’n groter houer wat met water en ysblokkies gevul is tot vla afgekoel is. Roer af en toe sodat die vla nie ’n vel vorm nie. Room margarien en 125 ml suikerplaasvervanger tot liggeel terwyl die vla afkoel. Klits lepels vol van die vla-mengsel by die margarien-mengsel tot al die vla gebruik is. Roer die vanieljegeursel by. Vul en bedek koek met die vla-vulsel. Versier met appelliefies.

Om te weet Die koek val bietjie plat as jy hom uit die oond haal, maar dis reg so.

KOMMENTAAR
Die vla-koek moet verkieslik in 12 skywe gesny word. Die GI van die koek is nie heeltemal so laag nie en die vet-inhoud is hoog.
– Hilda Lategan
Bron: Kreatiewe Kosidees
Geplaas deur: Dalene Brits 

No comments:

Post a Comment