Monday 28 April 2014

LOW CARB HOENDERKERRIE EN BLATJANG



HOENDERKERRIE
Hierdie is my "all time favourite" hoenderkerrie-resep. Dit is net so ongelooflik lekker. Dit vra vir 'n paar verbode bestanddele, maar ek het hom al lankal ge-tweak om diabetes en LowCarb-vriendelik te wees. Indien jy sukkel om suikervrye blatjang in die hande te kry - hier is 'n lekker reseppie ondertoe op die blad daarvoor. Hierdie kerrie kan jy gerus probeer - dit beloof om 'n groot gunsteling in jou huis ook te word. Dit vries ook baie goed.

1,5 kg hoenderborsies
30 ml botter
200 g uie, gekap
500 ml kookwater
15 ml kerriepoeier
5 ml borrie
30 ml diabetiese appelkooskonfyt
15 ml bruin asyn
gerasperde skil van 1 suurlemoen
sout en peper na smaak
125 ml room

Verhit die botter in 'n kastrol en braai die uie daarin tot goudbruin en sag. Voeg die hoender en kookwater daarby en stowe oor lae hitte tot die vleis sag is. Meng die kerriepoeier, borrie, appelkooskonfyt, asyn en suurlemoenskil saam. Haal die hoender uit die water, en ontbeen dit. Sny in groterige stukke. Meng die kerriemengsel by die water in en laat kook. Plaas die hoender terug daarin en kook vir ongeveer 30 minute onbedek - roer dit af en toe. Geur na smaak met sout en peper. Roer die room net voor opdiening by.
Lewer 12 porsies. 1 Porsie =200g/Porsie
1130 kJ * Total Fat 12g * Protein 36g
Total Carbs 2.6g * Net Carbs 1.7g

Wenk:
Hier by ons is die hoender braaipakke dikwels op "special" of goedkoper as die res. Ek gebruik altyd hoenderborsies (vir kerrie en vir pastei) want ons gebruik die ander stukke vir oondbakgeregte of braai. Ons hou nie van die bene in kerrie nie, maar as dit jou nie pla nie, kan jy enige hoenderstukke in die kerrie gebruik, dit hoef nie noodwendig borsies te wees nie.
Die Lowcarb kombuis 

http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/04/low-carb-hoenderkerrie.html



LOWCARB CHUTNEY

Sedert Mrs Balls hulle suikervrye blatjang van die mark onttrek het, is mense op dieet, diabete en LowCarbers in 'n effense penarie. So baie resepte vra vir blatjang, en dit is net so lekker oor 'n stukkie vleis. So wat nou? Nou maak ons ons eie. Ek het lank en hard gesoek na 'n resep wat hierdie blatjang kan vervang. Die probleem is om 'n resep te kry wat bestanddele gebruik wat ons maklik in Suid-Afrika kan kry. Hierdie een is by verre die beste.

50 g uie, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngemaak
125 ml diabetiese appelkooskonfyt (bv Weigh Less of Natrodale)
15 ml bruin asyn
1 ml rissiepoeier
1 ml fyn kaneel
knippie fyn gemmer

Plaas die gekapte uie en knoffel in 'n kastrolletjie en gooi so 30 ml water daarby. Kook dit oor lae hitte tot die ui sag en deurskynend is (gooi nog water by indien dit droog kook). Gooi nou die appelkooskonfyt, asyn, rissiepoeier, kaneel en gemmer by en roerkook vir 5 minute. Bêre dit in 'n lugdigte plastiekbakkie in die yskas.

Nota: Jy kan die rissiepoeier vermeerder as jy wil. Die beste is om maar te proe en al die geurmiddels aan te pas volgens jou smaak. Die lowCarb kombuis

http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/04/low-carb-hoenderkerrie.html 

No comments:

Post a Comment