Friday 27 June 2014

BEESTONG



Kos vir kampeerders met idees vir kampering 
BEESTONG
[landbouweekblad]
Met vandag se vleispryse kan g’n mens meer van boude en blaaie alleen lewe nie – deesdae moet jy uitvind watse ander dele ’n bees het.
vir 6 tot 8 eters
BENODIG:
1 gepekelde beestong (sowat 2 kg)
3 naeltjies
2 lourierblare
1 ui
2 stokkies seldery
2 medium grootte wortels
Vir die sous
1½ koppie water
½ koppie suiker
2 teelepels Dijon-mosterd
sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
¾ koppie sultanas
1 eetlepel mielieblom
MAAK SO:
Sit die beestong in ’n houer en bedek die hele ding met water. Laat dit oornag in die water staan, verkieslik buite die bereik van kinders, want ’n mens weet nooit watse sielkundige probleme die kind later kan ontwikkel as hy of sy in die middel van die nag melk loop drink en op ’n heel beestong afkom nie.
Die water word die volgende dag afgegooi. Sit die tong in ’n pot, bedek dit weer met water en voeg die naeltjies, lourierblaar, ui, wortels en seldery by.
Sit die deksel op en kry die water aan die kook. Draai die hitte af, of krap die kole weg en laat die water stadig prut vir 2 tot 3 uur totdat die tong so sag soos ’n baba se boudjies is.
Haal die pot van die plaat of kole af en laat die tong in die water afkoel. As dit koel is, haal jy jou knipmes uit en speel dokter-dokter – kerf en trek die velletjie van die tong af. Gebruik ook jou mes om die stukke van die bees se keel, wat soms nog aan die tong vassit, te verwyder.
Sny die tong in dun skywe.
Maak die sous
Kook die water, mosterd, suiker en suurlemoen. Wanneer dit kook, gooi die sultanas by en kook dit stadig vir 10 minute.
Meng die Maizena met ’n bietjie water tot ’n pasta en roer dit by die sous. Laat waai met die sout en peper totdat alles reg smaak.
Sit die tong voor met kapokaartappels en gooi die sous oor.27/06/2014** http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/06/beestong.html


 




No comments:

Post a Comment