Thursday 31 July 2014

PAP EN WORS OP ITALIAANSE MANIER


PAP EN WORS op die Italiaanse manier
Polenta is mieliemeel wat al sedert antieke Romeinse tye gewild is in Italië. Saam met boerewors en tamaties is dit steeds ’n wenner.
genoeg vir 4 – 6

• 4 takkies vars roosmaryn, taamlik lank
• 600 g dik boerewors
• 40 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 400 g klein rosa-tamaties, gehalveer
• sout en varsgemaalde swartpeper
• hand vol vars basiliekruidblare, grofgekap
• 1 liter kookwater
• 250 ml polenta
• 100 g (110 ml) botter
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper

Verwyder die blaartjies van ’n gedeelte van die roosmaryntakkies. Druk die takkies deur die wors om die worsspiraal bymekaar te hou (sien foto) en lekker te geur. Plaas wors in ’n pan en voeg klein bietjie water by – sowat ½ cm diep. Plaas op stoofplaat en verhit. Braai tot water weggekook het en draai wors om. Braai verder tot gaar. Verhit olyfolie in ’n ander pan en voeg ui en knoffelhuisies by. Braai tot sag en deurskynend. Voeg tamaties by en geur met sout en peper. Braai tot tamaties sag is. Voeg basiliekruid by. 

Kook water in die ketel en gooi 1 liter van die kookwater in ’n kastrol. Bring weer tot kookpunt bo-op die stoof. Trek kastrol af van hitte en voeg die polenta stadig by terwyl jy heeltyd roer met ’n ballonklitster. Verlaag hitte van die stoofplaat tot die laagste stelling en plaas kastrol terug op plaat. Roer polenta tot dik en voeg botter by. Roer goed deur tot gesmelt. Voeg byna al die kaas by en meng goed. Sprinkel res van kaas bo-op en sit onmiddellik voor met gaar wors en tamatiesmoor.
deur Barbara Joubert
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/07/pap-en-wors-op-italiaanse-manier.html

No comments:

Post a Comment