Wednesday 22 April 2015

CREME BRULEE DOUGHNUTS




Elizma Ferreira
CREME BRULEE DOUGHNUTS:



Maak: omtrent 30 klein donuts
Bereidingstyd: 11/2 uur, plus rystyd
Gaarmaaktyd: omtrent 30 minute

Bestanddele:
• 125 ml melk
• 60 g (65 ml) botter
• 385 g (710 ml) koekmeel
• 45 g (55 ml) suiker
• 2 ml sout
• 7 g kitsgis
• 1 groot eier, geklits
• sonneblomolie, vir diepbraai
Vulsel
• 335 ml melk
• 65 g (75 ml) strooisuiker, plus ekstra om in te doop
• 4 groot eiergele
• 30 ml koekmeel
• 3 ml vanieljegeursel
• omtrent 100 ml heuning, verhit

Metode:
1 Verhit die melk, botter en 60 ml water saam tot die botter gesmelt het. Laat dit tot louwarm afkoel.

2 Sif die meel in ’n bak en voeg die suiker, sout en kitsgis by. Maak ’n holte in die middel en gooi die louwarm vloeistof by. Roer die eier by en hou aan met roer sodat jy geleidelik die droë bestanddele van die kante af inroer tot die deeg ’n bol vorm. Voeg nog ’n bietjie meel by, indien nodig.

3 Knie die deeg vir agt minute, sit dit in ’n bak wat liggies gesmeer is en bedek dit met ’n klam teedoek. Laat dit vir ’n uur eenkant staan of tot dit in volume verdubbel het.

4 Knie dit liggies af en rol dit uit tot omtrent 2 cm dik. Gebruik ’n ronde koekiedrukker om sirkels uit die deeg te druk. Pak dit versigtig op ’n bakplaat wat gesmeer en gevoer is en laat dit weer rys tot dit in grootte verdubbel het. Diepbraai dit in warm olie tot dit goudbruin is en laat dit dan op kombuispapier dreineer.

5 Vulsel Verhit die melk tot kookpunt en haal dit van die plaat af.

6 Klits die suiker en eiergele saam tot dit dik en donsig is. Klits die meel by.

7 Gooi die warm melk in ’n dun straaltjie by die eiergeelmengsel terwyl jy dit die heeltyd klits. Sit dit terug op die plaat terwyl jy aanhou klits. Verhit dit vir nog 2-3 minute tot die mengsel dik en donsig is. Voeg die vanielje by en laat dit dan eenkant afkoel.

8 Spuit die vlamengsel in die middel van elke donut, of sny die donuts oop en skep die vulsel in.

9 Verf ’n bietjie warm heuning oor elke donut en doop dit in die ekstra strooisuiker. Gebruik ’n blaasvlam om die suiker te smelt en ’n brûlée-lagie te vorm. Sit dit dadelik voor. 

(Idees Tydskrif)

No comments:

Post a Comment