Thursday 7 May 2015

WILDSPASTEI MET SAGTE KORS



Mare Nieuwoudt
WILDSPASTEI MET SAGTE KORS:

http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2015/05/wildspastei-met-sagte-kors.html

Deur Arina du Plessis
As daar gaar wildsvleis oorbly van ’n vorige ete, vlok dit en maak hierdie vinnige pastei. Die sagte kors slaan jy binne minute aanmekaar.

Vulsel:
45 ml olie, gekap
250 g (1 pak) spekvleis, fyn gesnipper
2 groot uie, fyn gekap
3 knoffelhuisies, fyn gekap
250 g (1 pak) sampioene, fyn gesnipper
500 – 750 g gepluiste, gaar wildsvleis
250 ml vleisaftreksel
125 ml room
5 ml gekapte vars tiemie
Sout en vars gemaalde swartpeper

Sagte kors:
125 ml elk melk en sonneblomolie
1 eier
180 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout

Metode:
Voorverhit die oond 180°C. Verhit die olie in ’n kastrol of groot pan en braai die spek, uie en knoffel saam daarin tot gaar. Voeg die sampioene by, braai tot gaar en voeg die gevlokte wildsvleis by. Braai tot deurwarm en voeg die aftreksel by.

Verhit tot kookpunt, draai die hitte baie laag en prut stadig en saggies tot die vulsel sappig en souserig is (dit moenie te watering wees nie). Voeg die room en tiemie by, roer deur en geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. Skep in ’n pasteibak.

Vir die sagte kors: Klits die melk, olie en eier saam. Meng die droë bestanddele in ’n bak en voeg die eiermengsel by. Roer tot glad en gooi oor die vulsel in die bak. Bak vir 30 minute tot die kors uitgerys en goudbruin is. Lewer vier porsies./LANDBOU

No comments:

Post a Comment