Friday 31 January 2014

MANGOBLATJANG


MANGOBLATJANG
3 mango’s (sowat 750 g), geskil en in klein blokkies gesny
1 Granny Smith appel, geskil, ontpit en in klein blokkies gesny
1 klein rooi ui, gekap
1 rooi of geel soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny
1 heel rooi brandrissie
30 ml (2 e) fyngerasperde vars gemmer
5 ml (1 t) gemaalde komyn
7,5 ml (½ e) komynsaad
1 kaneelstokkie
75 ml (5 e) suiker
40 ml (8 t) appelasyn
5 ml (1 t) geel mosterdsaadjies


1. Plaas al die bestanddele in ’n groot kastrol en meng goed deur. Bring oor matige hitte tot kookpunt en roer tot die suiker opgelos het. Verlaag hitte sodra die vrugte prut.
2. Prut vir 45 minute sonder ’n deksel sodat die mengsel verdik en die vrugte sag is, maar nie pap nie.
3. Vul intussen 2-3 glasflesse met kookwater. Bedek die deksels ook met kookwater, laat 5-10 minute staan en dreineer water. Skep die warm mengsel in die warm flesse en verseël dadelik. (Plaas die brandrissie en kaneelstokkie ook in die flesse, maar onthou dat die geure al sterker sal word.)
4. Laat afkoel en hou in ’n koel, donker plek. Laat die geure vir 2 dae ontwikkel voor dit gebruik word. Na dit oopgemaak is, moet dit in die yskas bly en sal 3-4 weke so hou.
5. Sit voor met camembert kaas, vars vrugte, neute en soutkoekies. Dit kan ook saam met kerrie, bobotie, geroosterde vis, hoender, vark of worsies voorgesit word. Dit is ook lekker as ’n sous op ’n toebroodjie of hamburger. Sit met vars koljanderblare voor.

Wenke
1. Gebruik ’n baie skerp groenteskiller om die mango’s te skil. Dit is baie maklik en daar is min van die vleis wat gemors sal word.

2. As mango’s nie heeltemal ryp is nie, prut vir nog 10-15 minute en voeg 15-30 ml ekstra suiker by.Heleen Meyer  http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/01/mangoblatjang.html

No comments:

Post a Comment