Wednesday, 21 May 2014

EETGEWOONTES VAN MAROKKO


EETGEWOONTES VAN MAROKKO


Marietjie Koekemoer Swanepoel
Stadig die gaarmaak, salig die genot.
Ek deel graag in kort met julle van die kosse en eetgewoontes wat ek in Marokko raakgeloop het, wat ons hier so maklik kan aanwend op eie tuis spyskaarte.

Foto 1. Lamsvleis bedien met marmelade. Hulle gebruik die Tasheen om baie van hul kosse in gaar te maak. Op 'n oop vuur, stadige hitte en innig die trou van smake en geure daarbinne. Marmelade en lam, 'n wenner.

Foto 2. Dit is algemeen om die klei oonde te sien. Veral in plattelandse dele. 'n Groot gat word in die grond gemaak en 'n klei oond daarbo uit gebou. Vuur word onder in gemaak, die lam word gesak en soms oornag gelaat om gaar te word. Die word dan heel bedien (sien foto 8) vir die hele gesin. Die seun en sy vrou en kinders woon by sy ouers. Die dogter by haar man se gesin.

Foto 3. Hoender op couscous (self gemaak deur die vroue, die proses neem hul etlike ure) met groente in Tasheem gaargemaak. Die geure stoom deur die lae kosse en sorg vir 'n aangename smaakverrassing. Byna soos ons stowekos. Net in 'n 'cone' vorm soos die deksel van die Tasheem. Die Marokkane maak baie gebruik van vars spesery.

Foto 4 en 5 Eenvoud is beste. Soos ek die broodknie en bak beskryf het word die brood ook so bedien. Bloot met olyfolie, heuning, of met sop, opgesnyde vars tamatie met basiliekruid en olyf byvoorbeeld.

Foto 6. Die vroue maak hul eie phyllo deeg en hierdie nagereg is 'n wenner. Die blad phyllo word gebruin in olie, dan geklad met kombuispapier om die ergste olie uit te klad. Hierdie blaaie word dan opmekaar gestapel, soveel jy verkies. Vroue maak hul eie vla wat dan hieroor gegooi word en bedruip word met heuning indien verkies.

Foto 7. Vars lemoen word in skywe gesny, bedruip met kaneelsuiker en bedek met gesnipperde vars dadel. Sit vir 'n oomblik onder die oondrooster vir die smake om saam te smelt.

Foto 8. Heel lam. Dit is tradisie vir die Marokkane om 'n etensbord te deel, en met die hande te eet. Die gesinsmoeder skep die geregte op 'n opdienbord en verdeel die kosse eweredig vir almal om van dieselfde te geniet. Die bord word nie omgestuur nie, jy eet bloot dit wat voor jou beland.

Foto 9 en 10. Marokko is 'n Moslemland en slegs in uitsoek restaurante in stede, ver weg van moskees, word drank bedien. In die noorde maak hulle egter die heerlikste wit en rooiwyne. Spog selfs met gesogde bier. Alhoewel hulle self nie alkohol gebruik nie.

In die platteland, ek het die in die Atlasberge besoek, is die bestaan geensins speletjies nie. Die vroue werk op die lande, die mans gaan per meul elke 2de week na die naaste nedersetting se markie om proviant aan te koop. Vir die res leef hulle van hul eie lande en herd. Bok, lam, hoender is algemeen. Olyfbome, kruietuine, lemoenbome, dadelbome is bv oral te siene. Gesinne maak hul eie brode, soetgebak, olyfolie, couscous, meng hul eie spreserye en lê in wat hulle kan. Sou jy iemand besoek, neem jy iets soets saam. Gebak, suiker of tee. Selfs lewendige hoender.
Die teemaak en bediening is 'n hele storie op sigself.
Fluit fluit, my stories van die sonskyn en speseryland is uit. http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/05/eetgewoontes-van-marokko.html



  







Baie Dankie Marietjie Koekemoer Swanepoel*** 21/05/2014