Friday 22 August 2014

HOMEMADE BEEFSTOCK

                                                   >Theelliotthomestead.com
BEEFSTOCK
 Resep vir tuisgemaakte vleisaftreksel die sous werd

ENIGE sjef wat sy sous in die kombuis werd is, sal nooit sy hand aan enige gereg waag sonder die ondersteuning van ’n pot vol tuisgemaakte aftreksel byderhand nie. Dan praat ek vir seker nie van die soort wat jy ewe vinnig van ’n blokkie uit ’n boksie en ’n klomp kookwater optower nie. Nee, ek bedoel die ware Jakob. Eie, tuisgemaakte, stadig gekookte aftreksel, of soos ons dit mos maar noem: stock.
Geen gereg waarin die bestanddeel ’n voorvereiste is, sal ooit weer dieselfde proe wanneer jy dit eers een keer met jou eie brousel opgekikker het nie. Ja, ek stem saam, daar is ’n bietjie moeite aan verbonde wat die voorbereiding betref, maar die beloning is so oorweldigend groot dat dit tog die energie wat jy daaraan bestee, die moeite werd maak.
Hiermee dan ’n heerlike resep om jou eie beesvleis-aftreksel voor te berei. Onthou, dit vries goed. Jy kan ’n lekker groot hoeveelheid op ’n slag maak en dit dan ses maande lank vries.



TUISGEMAAKTE BEESVLEISAFTREKSEL
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/08/homemade-beefstock.html

Gebruik so ongeveer een kilogram rou beesbene waarvan die meeste vleis afgesny is. Enige soort bene is geskik, hoewel ek voorstel dit moet nie murgbene wees nie, anders gaan jy met ’n vreeslike vetterige spul sit. Beesribbebene werk goed. Braai dit dan net vinnig in ’n pan om ’n lekker goudbruin kleur op te tower en sit dit dan in ’n groterige kastrol met ongeveer agt koppies koue water. Voeg daarby 200 gram van die rou vleis wat jy aanvanklik van die bene afgesny het.
Gooi daarby ’n hand vol elk preie, wortel en pietersielie .
Kap nou ’n groot ui op, roerbraai dit vinnig in ’n pannetjie om ’n goue kleur te kry. Moenie dit gaarmaak nie, hoor. Dit moet ferm wees en effe goud van kleur.
Voeg sout en vars gemaalde swartpeper na smaak by.
Laat prut jou brousel twee uur lank stadig in die oop kastrol. Skep so dan en wan die opdrifseltjies wat tydens die kookproses bo mag dryf met ’n gaatjieslepel af.
Ná die ywee uur word alles deur ’n moeseliendoek goed gedreineer. Proe daaraan en geur na smaak met dit waarvan jy en jou mense hou en sie daar: jou eie vleisaftreksel. Nou bevind jy jou in die geselskap van die groot kos-ghoeroes!
Geniet dit!
EVAN HARRINGTON *Volksblad

No comments:

Post a Comment