Monday 15 September 2014

GEVULDE GEBAKTE UIE



Gevulde Gebakte Uie

http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/09/gevulde-gebakte-uie.html
4 groot uie, geskil en in water geweek
Water
Olyfolie
Sout en vars gemaalde swartpeper

Vulsel
3 snye volgraanbrood
1 wiel fetakaas, gekrummel
5 ml heelkorrelmosterd
45 ml olyfolie
60 ml gekapte, vars pietersielie
2 knoffelhuisies, fyn gedruk

Voorverhit die oond tot 180 ºC en verhit ’n groot pot water tot kookpunt. Halveer die uie horisontaal en dompel die halwe uie vir tien tellings in die kookwater. Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer.

Gebruik ’n teelepel om die ui uit te hol (maak ’n redelike groot holte in elkeen, maar wees versigtig dat jy nie die uie breek nie). Hou die uievlees wat jy uitskep eenkant vir later.

Pak die uie (met die uitgeholde kante na bo) in ’n oondbak en voeg ’n klein bietjie water by. Drup ’n bietjie olyfolie oor elke ui en geur met sout en peper. Bedek met foelie en bak vir 20 minute of tot die uie net-net sag is. (Dit kan langer duur as jy baie groot uie gebruik.)

Sit die uitgeskepte uievlees saam met die res van die vulselbestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot krummelrig en klam. Haal die uie uit die oond en gooi die vloeistof onder in die oondbak af. Verhoog die oondtemperatuur tot 200 ºC.

Skep die vulsel in die uie en druk goed vas. Drup weer ’n bietjie olyfolie oor en geur mildelik met sout en peper. Bak sonder foelie vir nog 10-20 minute of tot die vulsel goudbruin en bros bo-op is en die uie sag en deurgebak.

Sit dadelik voor. Lewer 8 porsies.

WENKE:
Dié uie is ’n heerlik ekonomiese, ligte ete of bykos.
Ek het geen vleis by die vulsel gesit nie, wat dit ideaal maak vir vegetariërs, maar vir die vleistande in jou huis kan jy gaar maalvleis of gebraaide spek met die krummelmengsel meng. Gebruik die grootste uie wat jy in die hande kan kry.
Bron: Deur Arina du Plessis

No comments:

Post a Comment