Monday 15 December 2014

MIKROGOLF VRUGTEKOEK EN MUFFINS



Mikrogolf-vrugtekoek
LEWER 24 VRUGTEKOEKMUFFINS
Bereiding: 20-25 minute
Gaarmaaktyd: 4 minute per 6 op hoog
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2014/12/mikrogolf-vrugtekoek-en-muffins.html
Sue Reader het al in 2005 vir ons dié trefferresep vir ’n mikrogolf-vrugtekoek gestuur.

Ons het dit in muffinpannetjies gebak – dan kos dit jou net 4 minute om ’n baksel van 6 te maak. Sue sê sy gebruik 2 bakke, elk 18 cm in deursnee en 6 cm diep. Sy voer elk met handdoekpapier uit en bak dit 18 minute op mediumhoog.

Onthou om dit op ’n omgekeerde bord in die oond te plaas.

500 g droëvrugtekoekmengsel
250 g dadels, fyn gekap
250 ml (1 k) sagte bruinsuiker
150 g botter, sag
250 ml (1 k) warm water
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
500 ml (2 k) bruismeel
5 ml (1 t) gemengde speserye
1 ml (¼ t) sout
3 ekstragroot eiers, geklits
150 ml brandewyn
250 ml (1 k) gemengde neute, grof gekap
100 g glanskersies, grof gekap
versiersuiker vir afronding

Plaas die vrugtekoekmengsel, dadels, suiker, botter, water en kakao in ’n mikrogolfoondbak en plaas dit 4 minute in die mikrogolfoond. Roer goed en mikrogolf nog 4 minute.
Roer die koeksoda by en laat afkoel.
Sif die meel, gemengde speserye en sout en vou by die mengsel. Roer die eiers, brandewyn, neute en kersies by en skep die holtes van gespuite silikon-muffinpannetjies driekwart vol.

Bak 4 minute op ’n slag op hoog. Herhaal met die res van die beslag. Stuif die versiersuiker oor.

No comments:

Post a Comment