Monday 16 February 2015

APPELPOFFERTJIES

Diepgebraaide appelpoffertjies
Sit voor met goeie vanieljeroomys of met toffiesous en ’n lekker groot skep geklopte room.
Poffertjies
Halwe hoeveelheid basiese chouxdeeg
2 groot, groen appels, ontkern, geskil en gerasper
3 ml kaneel
1 ml neutmuskaat
Olie vir diepbraai
Kaneelsuiker om in te rol
Vanieljeroomys en vla, esdoringstroop of toffiesous om mee voor te sit

Sodra die chouxdeeg klaar gemaak is, roer die gerasperde appel, kaneel en neutmuskaat by. Verhit die olie oor matige hitte tot warm. Braai teelepelsvol van die deeg in die warm olie tot goudbruin en deurgaar.

Draai nou en dan om. Hou die temperatuur van die olie dop en stel die plaat laer indien nodig. Die poffertjies moet kans kry om gaar te word in die middel, voor dit donkerbruin is buite-om.
Skep uit met ’n gaatjieslepel op kombuispapier om te dreineer en rol dan elke poffertjie in kaneelsuiker. Sit voor met goeie vanieljeroomys en vla, stroop of sous. Lewer sowat 30 poffertjies.
Bron: Deur Arina du Plessis

Basiese chouxdeeg
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2015/02/appelpoffertjies.html
As jy chouxdeeg se geheime ken, sal jy nooit weer ’n flop hê nie. Die sleutel tot suksesvolle choux is geduld en die tydsberekening vir wanneer jy die eier byvoeg.
375 ml water
170 g botter
knippie sout
375 ml koekmeel
4 eiers (teen kamertemperatuur), geklits
Verhit die water en botter in ’n kastrol tot kookpunt. Verwyder van die hitte, voeg die sout en meel alles op een slag by en roer vinnig en aanhoudend tot die deeg ’n bal vorm wat van die kante van die pot wegtrek. Laat die bal deeg in die kastrol afkoel tot die kastrol koud genoeg is dat jy dit op jou hand kan laat staan sonder om te brand.
Voorverhit intussen die oond tot 200°C en smeer ’n paar bakplate liggies met olie. Nou volg die belangrike deel. Giet die geklitste eiers in ’n maatbeker en voeg dit bietjie vir bietjie (ongeveer 45–60 ml op ’n slag) by die deeg. Klop die deeg goed ná elke byvoeging. Jy sal sien die deeg sal eers in slap stukke skei en namate jy klop, weer glad raak. Wag tot die deeg weer glad raak voor jy die volgende bietjie geklitste eier byvoeg. Herhaal die proses tot al die eier gebruik is.
Skep of spuit nou die chouxdeeg in die vorm wat jy verkies op die voorbereide bakplate. Maak jou hand nat en spat ’n paar waterdruppels oor die plaat (dit veroorsaak nog meer stoom, wat help met die rysproses). Bak die chouxvorms vir sowat 10 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 180°C en bak vir ’n verdere 20 minute tot goudbruin en hard aan die buitekant.
Haal uit die oond en steek klein gaatjies in die gebak om die stoom te laat ontsnap. Laat afkoel op draadrakke tot kamertemperatuur en vul dan met ’n vulsel van jou keuse. Lewer ongeveer 5 dosyn profiteroles of 3 dosyn klein éclairs.

Maak suurlemoen-meringue poffertjies. Bak poffertjies volgens die profiterole-resep hierbo, vul met ’n mengsel van tuisgemaakte suurlemoensmeer en styfgeklopte room. Klits eierwitte tot stywe punte vorm en voeg strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tot dik en blinkwit. Spuit ’n meringueroset op elke gevulde poffertjie en rooster elke meringueroset met ’n gasvlam tot goudbruin. Dit is smullekker!

Bron: Deur Arina du Plessis

No comments:

Post a Comment