Saturday 7 February 2015

PASTA MET ROMERIGE PEPERSTEAKSOUS

Pasta met romerige pepersteaksous.
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2015/02/pasta-met-romerige-pepersteaksous.html
Dié pepersteaksous is nie net lekker oor pasta nie, maar smaak heerlik op kapokaartappels of polenta.
60 ml olyfolie
500 g steak (filet of kruisskyf werk goed)
1 ui, in dun skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
250 g gemengde sampioene, gesnipper
250 ml semi-soet witwyn
30 ml Dijon-mosterd
30 ml worcestersous
15 ml vars gemaalde swartpeper
125 ml beesvleisaftreksel
180 ml room
Sout
1 x 500 g-pak lintnoedels

Verhit die helfte van die olie in ’n pan en braai die steak tot gaar na smaak. Haal uit die pan en laat die vleis eenkant rus. Braai intussen die ui en knoffel in die pan waarin die steak gaargemaak is, tot sag.

Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Voeg die wyn by en verhit tot kookpunt. Kook vinnig vir 3 minute. Voeg die mosterd, worcestersous, swartpeper en aftreksel by en verhit weer tot kookpunt. Kook vir sowat 5 minute. Voeg die room by en laat deurkook. Geur na smaak met sout. Hou die sous eenkant warm.

Kook die pasta in ’n pot vinnig kokende soutwater tot sag, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, sny die steak in dun repies en voeg dit by die romerige sous. Sodra die pasta gaar is, dreineer en bedruip met die orige olyfolie. Verdeel die pasta tussen 4-6 borde of bakkies en skep die sous oor. Sit dadelik voor, met vars kruie oorgesprinkel. Lewer 4-6 porsies.

Foto: Neville Lockhart/Berna Coetzee
Deur Arina du Plessis

No comments:

Post a Comment