Monday 3 August 2015

PIESANG EN OKKERNEUT ONDERSTEBO KOEK




Mare Nieuwoudt

PIESANG EN OKKERNEUT ONDERSTEBO KOEK:

http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2015/08/piesang-en-okkerneut-onderstebo-koek.html

Die neute en vrugte saam verskaf ’n heerlike brosheid aan die onderstebokoek. Okkerneute en piesang smaak veral lekker saam.

Lewer 1 koek (12-16 snye)
Bereiding: 25 minute
Gaarmaaktyd: 50-55 minute

BOLAAG
250 ml (1 k) sagte bruinsuiker,
styf ingedruk
60 ml (¼ k) botter
45 ml (3 e) gouestroop
60 ml (¼ k) okkerneute, grof gekap
3 groot piesangs, in skuins skywe van 6 mm dik gesny

KOEK
250 ml (1 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
2 ml (½ t) fyn kaneel
1 ml (¼ t) sout
180 ml (¾ k) witsuiker
90 ml (6 e) botter, teen kamertemperatuur
1 eier
2 ml (½ t) vanielje-ekstrak
90 ml (6 e) melk

METODE:

Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ’n diep, ronde 20 cm-pan met botter.
1.BOLAAG Verhit die suiker, botter en stroop oor lae hitte en roer tot die botter gesmelt is. Giet die stroop in die voorbereide koekpan en smeer gelyk. Sprinkel die neuter egalig oor die stroop.
2.Pak die piesangskywe in sirkels op die neute – begin by die buiterand en laat die skywe effens oorvleuel.
3.KOEK Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Klits die suiker en botter saam tot romerig. Voeg die eier en vanielje by en klits tot lig en donsig. Klits die meelmengsel om die beurt met die melk in 3 byvoegings by.
4.Skep die beslag versigtig oor die piesangs en maak bo-op gelyk.
5.Bak 50-55 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat 15 minute in die pan afkoel.
6.Sny die kante versigtig los met ’n skerp mes en keer dan op ’n koekbord om. Los die pan 3 minute oor die koek voor dit versigtig verwyder word. Sit warm of by kamertemperatuur voor.

WENK
As jy bang is die vrugte sit aan die pan vas, kan jy ’n losboompan gebruik en dit onder en aan die kante met een strook tinfoelie uitvoer. Verwyder die ring en foelie wanneer jy die koek uitkeer. (Huisgenoot)

No comments:

Post a Comment