Tuesday 4 June 2013

BOERSEEP





BOERSEEP
http://lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com/2013/06/boerseep.html
Dankie Cora Koch vir die volgende, ek is al 'n paar keer gevra hoe mens boerseep maak
Ek het ‘n resep vir boerseep wat ek gereeld nog maak:
1,75 kg harde beesvet (uitgebraaide vet)
250 g seepsoda
1 liter koue water
50 ml sitroenella olie (om die vet se reuk te verbloem)
Geel handskoene (om jou hande te beskerm)

Smelt die vet in ‘n stainless steel kastrol en hou eenkant totdat dit redelik afgekoel het. Jy moet jou vinger vir 10 sekondes daarin kan hou sonder om te brand. Gooi die vlokkies seepsoda in ‘n erde emmertjie en gooi dan die koue water daarop en roer paar kere met houtlepel, sit die deksel bo-op en laat staan op ‘n veilige plek. Laat staan totdat dit min of meer dieselfde hitte het as die vet (as jy ‘n kook termometer het is dit ‘n pluspunt).
Gooi nou die seepsodawater by die vet (en sitroenella olie) en roer totdat dit soos versuikerde heuning begin lyk ( dit vat nogals ‘n rukkie, maar moenie moedeloos word nie) gooi uit in ‘n vierkantige plastiek bak wat uitgevoer is met ‘n linnelap (die lap kan net die bodem bedek en lank genoeg wees dat jy vatplek het wanneer jy die seep uitkeer). 
Die mengsel behoort warmer te word as gevolg van ‘n chemiese reaksie. Sit die bak met die mengsel bo-op in hout broodplank met ‘n stainless steel skinkbord bo-oor die bak en bedek met swartsak en met ‘n kombers. Maak die seep laatmiddag en laat dit staan tot die volgende oggend. Maak die kante van die seep los van die bak en trek nou die lap aan weerskante stadig totdat dit loskom van die boom, keer die seep uit en merk die stene uit en sny met skerp mes. Laat staan vir ‘n week of wat voordat jy daarvan gebruik.

Jy behoort 12 stene uit te sny van 8 x 7 cm en omtrent 3 cm dik.

1 comment:

  1. Genade! El vertel vandag hoe my ouers dit gemaak het. My ma het blousel ook bygevoeg. Ek het die resep 100% na amper 50 jaar nog soos in uit my kop geken! my Pa het net houtkatse gebruik om die seep in af te koel.

    ReplyDelete