Tuesday 26 November 2013

CANNELLONI

                                                              Foto> Michaeltoa.blogspot

PARTYTJIE LASAGNE

Sorg dat jou kastrol diep genoeg is sodat die buise regop daarin kan staan. Gebruik een van sowat 30 x 15 cm.
(Vir 10 - 12 mense)
sowat 150 ml olyfolie
500 g repiespek (streaky bacon), in klein blokkies gesny
2 uie, fyngekap
2 kg beesmaalvleis
4 knoffelhuisies, fyngekap
4 blikke tamaties (400 g elk)
500 ml goeie rooiwyn
100 g tamatiepasta
15 ml suiker
15 ml gemengde droë kruie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 kg cannelloni-buise (twee 500 g-bokse)

Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol. Braai die spek en uie saam vir sowat 10 minute. Voeg die maalvleis by en braai tot dit nie meer pienk is nie. Voeg die knoffel en tamaties by. Meng goed. Gooi die rooiwyn, tamatiepasta, suiker en kruie by. Geur met sout en swartpeper. Sit ’n deksel op en prut vir minstens 2 ½ uur (ja, jy’t reg gelees.) Roer elke nou en dan en onthou, daar moet ’n lekker souserigheid wees, dit moenie droogkook nie. Sit dan aanmekaar:

Stap 1
Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas van die vleissous-mengsel onder in die kastrol. Pak die cannelloni-buise regop, so 1 mm uit mekaar, in die kastrol.

Stap 2
Vul die buise en die kastrol rondom met die sous. Onthou, daar kom witsous bo-op; hou so 2 cm bo oop.

Witsous

Room by die witsous maak die hele dis ryker. So nie, kan jy 800 ml melk gebruik.

120 g (120 ml) botter
70 g (120 ml ) meel
300 ml melk
500 ml room
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
100 g pecorino-kaas, gerasper
30 ml botter, in klein blokkies gesny

Smelt die 120 g botter in ’n kastrol. Voeg die meel by en meng tot ’n gladde pasta. Haal die kastrol van die hitte af en voeg die melk bietjie vir bietjie by. Roer goed ná elke byvoeging. (Ek verkies om ’n ballonklitser te gebruik - jy sal definitief nie klonte kry nie.) Voeg die room (of nog melk as jy verkies) by en meng goed. Plaas terug op die hitte en maak die sous dik terwyl jy aanmekaar roer. Geur met sout en swartpeper.

Stap 3
Wanneer die sous dik is, gooi dit oor die cannelloni en sprinkel die pecorino-kaas oor. Stip botter oor en bak vir so 45 minute tot mooi bruin. Druk ’n skerp mes in om te kyk of die pasta sag is.*Lekker Resepte vir die Jongergeslag*
Marlé Buysse*


No comments:

Post a Comment